'n Baie ou dwaling is steeds in ons midde teenwoordig. Is jy bewus daarvan?
Die Sinode van Dordrecht het in 1618 en 1619 die dwaalleer van die Remonstrante grondig uit die Woord van God weerlê. Ongelukkig het dit nie 'n einde aan hierdie dwaling gebring nie. Dit is vandag nog net so lewend en kragtig - en teenwoordig in die Christelike kerk van ons eie tyd, soos in daardie tyd. Dit vra onderskeidingsvermoë van elke gelowige. Benut hierdie geleentheid om jouself teen hierdie dwaling te beskerm en jou eie kennis van God se uitverkiesende genade te versterk.
Die Bybelse waarskuwing oor die laaste dae
In verskillende Nuwe Testamentiese Skrifgedeeltes word gelowiges gewaarsku oor die dwalinge wat gaan kom en die gepaardgaande afval van die geloof wat in die laaste dae sal plaasvind. Ons beleef reeds die hartseer daarvan. Kerkrade het die verantwoordelikheid om toe te sien dat elke gelowige voldoende toegerus is om die dwalinge, die dwaalleer en die dwaalleraars te kan herken. Hier is nou 'n geleentheid waar kerkrade, ampsdraers, wyke, Bybelstudiegroepe of individuele gelowiges, die Gereformeerde Belydenisskrifte sistematies kan bestudeer.
Geloofbelydenis is getuienis
Geloof is verseker 'n baie intieme en persoonlike saak, maar God se Woord leer baie duidelik dat ons persoonlike belydenis ook 'n suiwere getuienis in hierdie wêreld moet wees. Elke Christen het dus die Godgegewe verantwoordelikheid om hom / haarself deeglik toe te rus om tot eer van God, elke dag, 'n suiwere getuienis uit te leef. Ons leef ook in 'n wêreld wat hierdie waarhede van God se Woord dringend moet hoor.
Suiwere leer
Daar is geen tekort aan goeie Bybelse toerustingsmateriaal nie. As gereformeerde gelowiges het ons buiten die Bybel in ons eie moedertaal, ook 'n skatkis van oorgelewerde geskrifte. Die enigste tekort is ons eie motivering en geestelike dissipline om onsself daadwerklik daarin te verdiep. Ons het ook die verantwoordelikheid om dit ook verder in ons wêreld bekend te maak.
Dit begin reeds in die ouerhuis
Wie van julle onthou nog die rooi en die blou katkisasie boekies? Miskien het jy ook daarmee grootgeword?
Huisgodsdiens en huiskatkisasie is egter vandag die vergete geestelike dissiplines in ons baie besige lewens. Is dit nie nou tyd om dit weer te herontek en te laat herleef nie?